Toorkuns

In die begin...


Die dwaas - nommer 0 in die Tarot - (die joker in 'n gewone pak speelkaarte) staan op die punt om 'n reis te begin.

Die vraag is: Sal hy iets leer uit sy reis? Leer hy iets , is hy geen dwaas nie.
Leer hy niks, wat is dan die sin van die reis?

As kind het die verhaal van Paul Kruger my diep bedroef.

Baie jare later, as volwassene, herwin ek my kragte in 'n kliniek in Switserland. Dis 'n tyd van diepe selfondersoek vir my: Moet ek teruggaan Suid-Afrika toe - iets wat ek gesweer het ek nóóit sal doen nie? Ja. Nee.

Ek gaan stap, en, uit die bloute, kom ek af op Villa Kruger, die huis waar die ou president sy laaste dae deur gebring het.



Ek sien dit nou weer so duidelik: Die uitsig oor die stil meer, die manjifieke gletsers. So pragtig. So Koud. Dit is nie Afrika nie. Afrika met sy ruheid onder 'n skitterende, skroeiende son; sy veld, wilde diere...



So onderneem Hennie die Dwaas dus sy pelgrimsreis terug na die begin. So 'n reis is veeleisend. Jy ontmoet duiwels en spoke, maar, uiteindelik, besweer jy alle vrees - omdat jy terugkeer na dit waarvan jy weggehardloop het.


Die pad na die Hemel kruis die een na die Hel telkemale...




As verwarde tiener - verward ook oor my taal, Afrikaans, en my mense, die Afrikaners - het ek aan Alan Paton geskryf. Ek wou by hom weet of hy dink die Afrikaanse taal is gedoem omdat dit die taal is van die onderdrukker; die taal van bygeloof en haat. Hy het geantwoord - en my brief ook ter illustrasie gebruik in sy rubriek in die Sunday Tribune - dat daar 'n verskil is, want Afrikaans is ook die taal wat liefde en skoonheid kan verwoord. Dekades het verloop voordat ek behoorlik verstaan het wat hy bedoel het...

Toorkuns is my terugkoms na my táál, na die tyd van onskuld - die tyd voor die oorlog.

__________________________________________________________________


Ek dra hierdie projek op aan Paul Kruger, en aan die manne wat verban is na St Helena, Argentini ë en Ceylon; ek dra dit op aan Sarah Baardman, Miriam Makeba en Breyten Breytenbach.

En ook aan Helen Martins www.owlhouse.co.za

Met spesiale dank aan:

Bheki Khambule
Lalelani Mbhele
Welcome Danca

en
my mede-reisiger,
Rossetta Woolf

www.azazel.com/woolf